Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 3:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Een nag het Nikodemus Jesus kom opsoek. Hy was ’n belangrike leier in die Joodse gemeenskap en ’n lid van die party van die Fariseërs.

2. Hy knoop toe met Jesus ’n gesprek aan: “Meneer, ons is oortuig daarvan dat God u gebruik om ander mense te leer. Weet u waarom sê ek so? As God iemand nie bystaan nie, sal hy eenvoudig nie die dinge kan doen wat u regkry nie.”

3. Jesus antwoord hom toe: “Weet jy, Ek wil nou vir jou iets belangriks sê. As iemand nie nog ’n keer gebore word nie, sal hy sowaar nie deel word van die ryk waar God Koning is nie.”

4. “Hoe is dit moontlik om as jy al groot en oud is, nog ’n keer gebore te word?” vra Nikodemus Hom. “’n Mens kan mos nie ’n tweede maal in jou ma terugklim om weer ’n keer gebore te word nie.”

5. “Luister baie mooi wat Ek vir jou sê,” kom dit van Jesus. “Die pad na die ryk waar God Koning is, is toe vir elkeen wat nie gebore word uit lewende water en die Heilige Gees nie.

6. Immers, ’n kind wat uit ’n mens gebore word, is maar net ’n mens. Wie egter uit die Gees gebore word, begin geestelik lewe.

7. “Daarom moet jy nie vol allerhande vraagtekens wees oor my woorde dat julle nog ’n keer gebore moet word nie. Leer uit die natuur.

Lees volledige hoofstuk Johannes 3