Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 19:35-42 Die Boodskap (DB)

35. Dit is nie sommer stories dié nie. Dit het regtig gebeur. Daardie man het dit met sy eie oë gesien. Hy praat die waarheid en sal nie lieg nie. Julle kan maar glo wat hy vertel.

36. Die Skrif het mos lankal gesê dit sou gebeur. Luister net: “Hulle sal nie ’n enkele been van Hom breek nie,” staan daar op een plek, en op ’n ander plek:

37. “Hulle sal kyk na die Een wat hulle met die spies gesteek het.”

38. Josef wat uit Arimatea gekom het, was ook ’n volgeling van Jesus. Hy het dit egter probeer stilhou, want hy was bang dat die Jode hom iets sou aandoen as hulle dit uitvind. Toe alles verby was, is hy na Pilatus toe. Hy vra Pilatus toe reguit of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. (As niemand die lyke gevat het nie, het die soldate dit gewoonlik sommer eenkant in ’n vlak graf gegooi.) Pilatus het vir Josef gesê hy kon dit maar doen. Hy het toe Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en weggevat.

39. Nikodemus het ook bygekom. (Dit was mos hy wat destyds in die nag na Jesus toe gekom het.) Hy het ’n klomp mirre en aalwyn by hom gehad om Jesus se liggaam vir die graf reg te kry. Altesaam het dit so 33 kilogram geweeg.

40. Hulle het Jesus se liggaam mooi in linne toegedraai. Die linne was deurweek van die mirre en aalwyn. Dit is wat die Jode destyds gedoen het as hulle iemand begrawe het.

41. Jesus se kruis het in ’n tuin gestaan. In die tuin was daar ook ’n graf wat pas klaar uit die rots gekap was. Dit het soos ’n kamer gelyk. Hulle het Jesus net daar begrawe. Hy was die eerste een wat in dié grafkamer begrawe is.

42. Dit was gerieflik en naby, want die tyd was min. Hulle moes ook nog alles vir die Jode se fees gaan regkry voor die son gesak en die sabbat begin het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 19