Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:35-40 Die Boodskap (DB)

35. “Lyk ek vir jou na ’n Jood wat sulke aanvoelings sal hê?” reageer Pilatus dadelik. “Jou eie mense en die leiers van die priesters het jou hier voor my gesleep. Wat het jy aangevang?”

36. Jesus antwoord toe: “Ek is ’n koning, maar nie ’n aardse koning nie. As Ek ’n aardse koning was, sou my volgelinge hand en tand baklei het om te keer dat die Jode My vang. Dis miskien wat aardse konings doen, maar Ek is nie so ’n koning nie.”

37. “O so, dan is jy tog ’n koning!” sê Pilatus toe.“As jy so sê,” sê Jesus. “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met ’n doel: om met oortuiging vir mense die waarheid te kom vertel. Ja, daarvoor is Ek gebore. Weet jy wie luister na wat Ek sê? Mense wat hart en siel aan die kant van die waarheid staan.”

38. “Waarvan praat jy? Wat is die waarheid?” vra Pilatus Hom.Na die gesprek is Pilatus toe weer buitetoe. Daar sê hy vir die Jode: “Dit lyk nie vir my of hierdie man iets verkeerds gedoen het nie. Ek wil ’n voorstel maak.

39. Ek laat mos altyd met paasfees vir julle ’n gevangene vry. Wat daarvan as ek vir julle hierdie koning van die Jode laat gaan?”

40. “Nooit!” skree hulle. “Ons soek Barabbas. Laat hom vir ons los!” (Barabbas was ’n Joodse terroris.)

Lees volledige hoofstuk Johannes 18