Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:21-32 Die Boodskap (DB)

21. Jesus het nog ernstiger geword en was nou sigbaar ontsteld. “Ai, dit is vir My swaar om dit vir julle te sê, maar een van julle gaan My lelik in die rug steek.”

22. “Wie sou dit nou wees?” het sy volgelinge so stilletjies onder mekaar gevra.

23-24. Simon skraap toe moed bymekaar om te vra. Hy knik toe vir die dissipel wat langs Jesus gesit het. (Dit was die dissipel van wie Jesus baie gehou het.) “Vra ’n bietjie wie dit is.”

25. Die dissipel leun toe oor: “Here, wie is dit?”

26. Jesus sê toe: “Ek gaan ’n bietjie sous op hierdie brood sit en dit vir een van julle gee. Kyk mooi, dit is hy!” Jesus doen dit toe en gee die brood vir Judas, seun van Simon Iskariot.

27. Hy het dit gevat en geëet. Van toe af het Satan ’n houvas op hom gekry. Jesus sê toe: “Moenie nog wag nie. Maak gou!”

28. Die ander aan tafel het nie geweet wat Jesus bedoel nie. Hulle het gedink dit het maar iets met die geld te doen.

29. (Judas het mos met die geld gewerk.) Judas moes seker nog iets vir die fees gaan koop of ietsie vir die armes gee, het hulle vir mekaar gesê.

30. Judas het dadelik opgestaan en uitgestap. Buite was dit pikdonker.

31. Toe Judas by die deur uit is, sê Jesus: “Nou gaan die dinge begin gebeur. Julle sal sien hoe belangrik die Seun regtig is.

32. Dan sal julle ook sien hoe groot en belangrik God is. Hierdie groot God gaan self vir julle wys hoe belangrik sy Seun is. En julle sal nie meer lank hoef te wag om dit te sien nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 13