Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:43-50 Die Boodskap (DB)

43. Hulle probleem was dat hulle harder probeer het om mense te beïndruk as vir God.

44. Jesus praat toe hard sodat almal Hom kon hoor: “Hy wat My gelowig aanvaar, aanvaar nie net vir My nie; hy aanvaar ook vir God wat My gestuur het.

45. Hy wat werklik begryp wie Ek is, begryp ook wie My gestuur het.

46. Ek is die Lig wat helder in hierdie donker wêreld ingeskyn het. Wie My gelowig aanvaar, sal nooit weer in die donker hoef rond te strompel nie. Ek het nie gekom om te kyk hoeveel mense Ek hel toe kan stuur nie; inteendeel.

47. “Om die waarheid te sê, as iemand hom nie steur aan wat Ek sê nie, gaan Ek nie my energie mors om te sorg dat hy in die hel beland nie. Ek het beter dinge om te doen. Ek wil eerder my energie gebruik om mense hemel toe te vat, nie hel toe nie.

48. As iemand sy rug vir My draai en my boodskap ignoreer, sal hy wel sy moses teëkom. Hy het mos gehoor wat Ek gesê het! By die finale oordeel sal niemand dit vir hom hoef te herhaal nie. Hy sal my woorde dan onthou, dat wie My nie aanvaar nie, hel toe gaan. Dan sal hy weet wat God oor hom besluit het.

49. “Dit is so omdat Ek nie sommer wat Ek gesê het uit my duim gesuig het nie. My Vader het My presies vertel wat om te sê en wat nie. Toe het Hy My gestuur.

50. Ek weet presies wat Hy wil hê: Ek moet dit vir mense moontlik maak om vir ewig saam met Hom te leef. Dit het die Vader vir My gesê en dit sê Ek vir julle.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 12