Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:28-43 Die Boodskap (DB)

28. Marta is toe daar weg. Sy het stilletjies vir Maria gaan roep. “Die Here wag vir jou. Hy wil graag met jou praat.”

29. Toe Maria dit hoor, spring sy op en loop haastig na Jesus toe.

30. Jesus het buite die dorp vir haar gewag. Dit was op dieselfde plek waar Hy met Marta gepraat het.

31. Die Jode in die huis het nie geweet waarom Maria so vinnig daar weg is nie. Hulle is toe agterna om haar te troos. Hulle het gedink sy voel hartseer en is daarom graf toe om daar te gaan huil.

32. Toe Maria Jesus kry, gryp sy net sy voete vas. “Here,” stamel sy, “as U betyds hier was, sou my broer vandag nog geleef het.”

33. Toe Jesus haar snikke hoor en ook hoor hoe die Jode huil wat saam met haar was, het Hy ’n knop in sy keel gekry. Hy het baie hartseer gevoel.

34. “Waar is hy begrawe?” vra Jesus.“Kom saam, Here, ons gaan wys U,” sê hulle.

35. Jesus kon sy trane nie meer keer nie. Hy het gehuil.

36. “Kyk net! Hy moes Lasarus darem baie liefgehad het!” sê party Jode toe, terwyl ander sê:

37. “Ons wonder darem. Julle weet, Hy het mos ’n blinde laat sien. Kon Hy nie dalk iets gedoen het sodat Lasarus nie doodgegaan het nie?”

38. Jesus was nog steeds baie hartseer toe Hy by die graf kom. Lasarus se lyk was in ’n soort grot begrawe. Die ingang was met ’n groot rots toegemaak.

39. “Vat weg die rots,” sê Jesus. Marta probeer nog keer: “Asseblief, Here! Hy lê al dae daar. ’n Mens kan al die liggaam ruik.”

40. “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.”

41. Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra.

42. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.”

43. Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!”

Lees volledige hoofstuk Johannes 11