Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:24-32 Die Boodskap (DB)

24. “Ek weet dit,” sê Marta. “Met die finale oordeel sal God ons almal mos weer lewendig maak.”

25. “Dit is nie wat Ek bedoel nie,” sê Jesus. “Ek is die Een wat mense laat opstaan uit die dood en aan hulle die lewe gee wat nooit ophou nie. “As iemand waarlik ’n Christen is, kan hy mos nooit geestelik doodgaan nie. Al sterf sy liggaam, het hy nog die ewige lewe.

26. Wie op My vertrou en die ewige lewe het, gaan nooit regtig dood nie. Aanvaar jy dit wat Ek vir jou sê, Marta?”

27. “Natuurlik, Here,” sê sy dadelik. “Ek twyfel nie een oomblik dat U die Seun van God is nie. U is die Een vir wie God spesiaal aangestel het om die mense te kom red.”

28. Marta is toe daar weg. Sy het stilletjies vir Maria gaan roep. “Die Here wag vir jou. Hy wil graag met jou praat.”

29. Toe Maria dit hoor, spring sy op en loop haastig na Jesus toe.

30. Jesus het buite die dorp vir haar gewag. Dit was op dieselfde plek waar Hy met Marta gepraat het.

31. Die Jode in die huis het nie geweet waarom Maria so vinnig daar weg is nie. Hulle is toe agterna om haar te troos. Hulle het gedink sy voel hartseer en is daarom graf toe om daar te gaan huil.

32. Toe Maria Jesus kry, gryp sy net sy voete vas. “Here,” stamel sy, “as U betyds hier was, sou my broer vandag nog geleef het.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 11