Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:4-13 Die Boodskap (DB)

4. Jesus het ook lewe aan die skepping gegee. Omdat Jesus mense lewe gegee het, kon hulle die regte besluite neem, soos iemand wat ’n lig het om in die donker mee te loop.

5. Mense wat reg lewe, het soos ’n helder lig in die donker, sondige wêreld ingeskyn. Hierdie donker wêreld wou niks met hulle te doen hê nie, maar kon hulle ook nie keer nie.

6. Johannes het ook op die toneel verskyn. God het hom gestuur om vir almal te kom vertel van Jesus wat soos ’n helder lig in die donker kom skyn het.

7. Sy sterk boodskap oor die Lig moes mense oortuig om in die Lig te glo.

8. Hy self was nie die Lig nie. Hy het maar net aan die mense kom vertel waar om die Lig te kry.

9. Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val.

10. Daar onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak.

11. Eienaardig genoeg het die mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie. Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo wie Hy regtig is nie.

12. Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word.

13. God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1