Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:38-46 Die Boodskap (DB)

38. Jesus kyk toe om.“Wie soek julle?” vra Hy vir hulle. “Rabbi, waar bly U?” vra hulle. (Terloops, “rabbi” beteken “onderwyser”.)

39. “Kom saam en kom kyk,” nooi Jesus hulle toe uit. So het dit gekom dat hulle saam is om te gaan kyk waar Hy bly. Dit was egter al laatmiddag en die son het begin water trek, met die gevolg dat die twee kuiergaste toe sommer die nag daar oorgebly het.

40. Een van die twee wat op Johannes se getuienis agter Jesus aan is, was Andreas.

41. Hy het daar en dan vir Simon, dit is sy broer, gaan soek.

42. Toe hy hom kry, sê hy vir hom: “Ons het die Messias gekry.” (Die Griekse woord vir “Messias” is “Christus”.) Simon is toe agter Andreas aan na Jesus toe. Daar gekom, sien Jesus vir Simon en sê: “Jy is Simon uit die familie van Johannes. Hier tussen ons sal jy Sefas wees.” (“Sefas” is ’n ander woord vir “Petrus”.)

43. Die volgende dag was Jesus van plan om na Galilea toe te gaan. Hy loop toe vir Filippus raak. “Kom saam met My,” nooi Jesus hom uit.

44. Filippus het uit Betsaida gekom waar Andreas en Petrus ook gebly het.

45. Die nuus oor Jesus het vinnig versprei. Filippus het vir Natanael gekry en hom weer vertel: “Ons het die Een gekry oor wie Moses geskryf het. Jy weet mos, dit is die Een oor wie die profete ook so geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef wat in Nasaret bly.”

46. “Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie. “Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1