Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 5:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Laat ons oor hoëpriesters nadink. ’n Hoëpriester word uit mense gekies en aangestel om ander mense se sake by God te behartig. Dit gaan oor godsdienstige dinge wat God raak: die hoëpriester moet allerhande offers vir God gee sodat God nie die mense straf vir al die verkeerde dinge wat hulle doen nie.

2. Omdat die hoëpriester self ’n swak mens is, sal hy simpatie hê met mense wat verkeerde dinge doen of wat nie weet wat reg is nie.

3. Daarom moet hy eers vir al die verkeerde dinge wat hy self gedoen het met ’n offer vir God om verskoning vra voordat hy dieselfde vir die ander mense kan doen.

4. Iemand kan nie self besluit dat hy ’n hoëpriester wil wees nie. Nee, God roep ’n mens om daardie werk te doen, soos Hy Aäron geroep het.

5. Jesus het ook nie vir Homself die belangrike werk van hoëpriester gevat nie. God het vir Hom gesê: “Jy is my Seun en Ek is jou Vader van vandag af,”

6. of soos God op ’n ander plek sê: “Jy sal vir altyd ’n priester wees; Jy sal ’n priester wees soos Melgisedek dit was.”

7. Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het.

8. Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 5