Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:19-25 Die Boodskap (DB)

19. Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.

20. Omdat Isak God vertrou het, kon hy sy seuns, Jakob en Esau, ’n goeie toekoms beloof.

21. Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat.

22. Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak.

23. Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie.

24. Omdat hy op die Here vertrou het, het Moses, toe hy groter geword het, geweier dat mense hom die kleinseun van die koning van Egipte noem.

25. Hy het sy keuse gemaak: hy sou eerder sleg behandel word saam met die mense van God as om ’n kort rukkie lekker in die sonde te baljaar.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11