Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:3-12 Die Boodskap (DB)

3. God het vir hom gesê: ‘Jy moet uit jou land trek. Vat al jou familielede saam met jou. Ek sal jou wys na watter land toe jy moet gaan.’

4. “Abraham het toe padgegee uit die land van die Galdeërs en in Haran gaan bly. Na sy pa se dood het God hom laat trek na hierdie land waar julle nou bly.

5. “Toe Abraham hier aangekom het, het hy nie die land op ’n skinkbord gekry nie. Aan die begin het hy nie eens ’n stuk grond of ’n kind gehad nie.

6. Tog het God hom belowe dat sy nageslag eendag hierdie hele land sou bewoon. “Hy het bygevoeg dat hulle eers sowat 400 jaar lank in ’n vreemde land sou bly. Daar sou hulle geen eie grond hê nie. Hulle sou as slawe werk en deur ander mense mishandel word.

7. “‘Maar moenie jou bekommer nie, Ek sal afreken met daardie volk wat jou nageslag so sleg sal behandel,’ het God vir Abraham gesê. ‘Dan sal Ek hulle daar gaan haal en na hierdie land toe bring sodat hulle My hier kan kom dien.’

8. “God het toe ’n ooreenkoms met Abraham gesluit. As bewys het Hy vir hom ’n teken aan sy liggaam gegee: die besnydenis. Abraham het daarna ’n seun gehad. Hy het hom Isak genoem. Agt dae na sy geboorte het hy hom besny. Isak was Jakob se pa, en Jakob die pa van die twaalf stamhoofde van ons volk.”

9. “Hierdie stamvaders was egter jaloers op hulle broer Josef. Daarom het hulle hom as ’n slaaf verkoop. Josef is deur sy nuwe eienaars weggevat Egipte toe. Maar God was heeltyd by hom. Hy het hom deur elke probleem en elke krisis gehelp.

10. Josef se groot insig en verstand het die aandag getrek van die farao, die koning van Egipte. Kort voor lank het hy hom aangestel as hoof oor die hele Egipte en oor sy huishouding.

11. “In daardie tyd was daar ’n groot hongersnood in Egipte en Kanaän. Die mense het niks gehad om te eet nie. Ons voorouers het ook baie swaargekry.

12. Toe Jakob hoor dat daar nog koring in Egipte te koop was, het hy sy seuns dadelik soontoe gestuur. Later het hulle teruggekom en vir hulle pa gesê dat daar wel koring in Egipte was. Jakob het hulle weer Egipte toe laat gaan om koring te koop.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7