Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:12-19 Die Boodskap (DB)

12. Toe Jakob hoor dat daar nog koring in Egipte te koop was, het hy sy seuns dadelik soontoe gestuur. Later het hulle teruggekom en vir hulle pa gesê dat daar wel koring in Egipte was. Jakob het hulle weer Egipte toe laat gaan om koring te koop.

13. Tydens hierdie besoek het Josef vir sy broers gesê wie hy regtig is. Hy het sy familie ook aan die farao gaan bekendstel.

14. Daarna het hy sy pa, Jakob, en die res van sy familie van sowat 75 mense laat haal om in Egipte te kom bly.

15. Jakob is uiteindelik daar dood, so ook al ons stamvaders.

16. Die liggame is na Sigem in Kanaän geneem. Daar is hulle begrawe in ’n graf wat Abraham vroeër vir ’n groot klomp geld van die seuns van Hemor gekoop het.”

17. “Die 400 jaar van swaarkry het nou einde se kant toe begin staan. Die tyd dat God sy volk sou bevry, was voor die deur, soos Hy aan Abraham beloof het. Teen daardie tyd het daar sommer al ’n groot groep van ons voorouers in Egipte gebly.

18. ’n Nuwe koning het intussen die leisels in Egipte oorgeneem. Hy het nie vir Josef geken nie. Hy was ’n wrede heerser wat ons mense sleg behandel het.

19. Hy het hulle selfs verplig om hulle pasgebore babatjies op die ashope te gaan weggooi. Op dié manier wou hy keer dat hulle getalle nog groter word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7