Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:4-16 Die Boodskap (DB)

4. Dit is tog jou grond. Toe jy dit verkoop het, kon jy met die wins gemaak het net wat jy wou. Hoekom was jy so skelm? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God self.”

5. Na Petrus hierdie woorde gesê het, het Ananias daar op die plek dood inmekaargesak.

6. ’n Klomp jongmans het hom kom toedraai en weggedra om begrawe te word. Hierdie nuus het gou onder die mense versprei. Hulle het toe baie bang geword vir God.

7. Sowat drie ure later het Saffira daar opgedaag, salig onbewus van wat met haar man gebeur het.

8. Toe Petrus haar sien, vra hy haar: “Het julle dié bedrag vir julle grond gekry?” “Ja,” antwoord sy. “Presies net soveel soos jy gesê het.”

9. Haar leuen het Petrus baie omgekrap. “Hoekom het jy en jou man agteraf teen die Heilige Gees gekonkel?” vra hy haar. “Het julle regtig gedink dat julle hieroor ongestraf sou bly? Daar by die ingang staan die jongmans wat jou man nou net gaan begrawe het. Hulle gaan jou ook dood hier uitdra.”

10. Net daar het Saffira reg voor Petrus inmekaargesak. Sy was op die plek dood. Die jongmans het haar uitgedra en by haar man gaan begrawe. Hierdie gebeurtenis het die hele gemeente met groot ontsag vir God vervul.

11. Ander mense buite die gemeente wat daarvan gehoor het, het ook baie bang geword vir Hom.

12. Die apostels het intussen voortgegaan om die een groot wonderwerk na die ander te doen. Die gemeente het gereeld by die Pilaargang van Salomo in die tempel bymekaargekom.

13. Ander mense het raakgesien dat hulle baie vir mekaar omgee en dat hulle groot eerbied vir God het. Dit het hulle baie beïndruk. Tog was die ander mense bang om daar by die tempel by hulle aan te sluit. Hulle was bang vir die reaksie van die godsdienstige leiers.

14. Die Here het egter met sy genade in die stad bly werk sodat groot getalle mans en vroue buite die mure van die tempel tot bekering gekom het.

15. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap.

16. Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5