Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Die mense van Jerusalem was so aangegryp deur die apostels se wonderwerke dat hulle selfs hulle siekes op beddens en draagbare in die strate laat lê het sodat Petrus se skaduwee op hulle sou val wanneer hy verbystap.

16. Mense uit ander stede het ook in groot getalle met hulle siekes en duiwelbesetenes na Jerusalem gestroom. Hulle almal is genees.

17. Die Joodse Raad kon nie anders as om van die wonderwerke van die apostels kennis te neem nie. Dit het hulle baie jaloers gemaak. Daarom het die hoëpriester en die ander godsdienstige leiers op ’n dag besluit om hulle te laat vang.

18. Kort daarna is die apostels gevang en in die tronk gestop.

19. Maar ’n engel van die Here het dieselfde nag nog die tronk se deure kom oopsluit. Die engel sê toe vir hulle: “Moenie mismoedig word nie.

20. Gaan weer na die tempel toe en vertel daar vir almal dat Jesus ’n mens se lewe nuut maak.”

21. Die apostels het so gemaak. Vroeg die volgende môre het hulle weer na die tempel toe gegaan en met die mense oor Jesus begin praat. Intussen het die hoëpriester en sy handlangers die Joodse Raad byeengeroep.

22. Hulle stuur toe ’n klompie soldate na die tronk om die apostels te gaan haal. Daar kon hulle die apostels nêrens opspoor nie. Hulle het teruggehardloop na die Joodse Raad en vir hulle gesê:

23. “Toe ons daar by die tronk kom, was die deure gesluit en al die wagte op hulle pos. Maar binnekant kon ons geen spoor van daardie klomp mans vind nie. Hulle is skoonveld.”Almal was dronkgeslaan daaroor.

24. Die hoof van die tempelpolisie kon glad nie verduidelik hoe so iets kon gebeur nie. Die priesters het net hulle koppe verbaas geskud.

25. Terwyl almal nog wonder wat aan die gang was, kom iemand daar aan en sê vir hulle: “Kom kyk! Die mans wat julle gister in die tronk gegooi het, is al weer in die tempel besig om die mense te leer.”

26. Dadelik is die hoof van die tempelpolisie en van sy manne soontoe om die apostels weer te vang. Maar dié keer het hulle die apostels baie ordentlik behandel. Hulle was bang dat die mense by die tempel hulle onder die klippe sou steek as hulle die apostels hardhandig daar wegvat.

27. Die apostels is na die Joodse Raad gebring. Die hoëpriester het gesê:

28. “Het ons julle nie uitdruklik verbied om in daardie man se naam met die mense te praat nie? Maar julle steur julle nie aan ons nie. Nou lê die hele Jerusalem vol van julle skewe leringe. Boonop beskuldig julle ons daarvan dat ons hierdie man doodgemaak het.”

29. Petrus en die ander apostels het dadelik geantwoord: “Ons moet in die eerste plek aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5