Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:9-21 Die Boodskap (DB)

9. “In elk geval, vroeër, toe ek nog ’n vyand van Jesus van Nasaret was, het ek my bes gedoen om almal uit te roei wat in Hom geglo het.

10. Ons godsdienstige leiers het toegelaat dat ek Jerusalem se tronke vol maak met hierdie mense. Ek het nie gehuiwer om ja te sê wanneer een van hulle doodgemaak moes word nie.

11. Ek het hulle selfs in die Joodse aanbiddingsplekke gaan uitsnuffel en hulle gedwing om hulle geloof te laat vaar. Later het ek ook begin om hulle in stede ver buite Jerusalem te vervolg.”

12. “Ek was juis op ’n dag op pad na Damaskus met toestemmingsbriewe om Christene daar te gaan vang, toe ’n skerp lig in die middel van die dag skielik op my en my reisgenote begin skyn.

13. Geagte koning, hierdie lig uit die hemel was baie skerper as die son.

14. Ons almal het so groot geskrik dat ons op die grond neergeval het. Ek het ’n stem gehoor wat in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg? Jy kan nie so aanhou nie. Hou op om jou teen My te verset.’

15. “‘Wie is U, Here?’ het ek gevra.“Die Here het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Jy is besig om My te vervolg.

16. Maar staan nou dadelik op, want Ek het ’n baie spesiale taak vir jou. Ek het aan jou verskyn sodat jy van nou af my dienskneg kan wees.

17. “‘Jy moet vir ander mense gaan vertel wat jy vandag gesien het. Jy moet ook gaan praat oor dit wat Ek nog vir jou sal sê wanneer Ek later weer aan jou verskyn. Ek het jou vrygemaak.

18. “‘Nou moet jy teruggaan na jou volk en na ander mense buite Israel en hulle oë ook gaan oopmaak. Jy moet vir elkeen wat nog in die donker leef, gaan vertel van die lig. Ruk hulle uit die kloue van Satan sodat hulle God se goedheid kan ken. Sê vir hulle om in My te glo. “‘Dan word al hulle sondes vergewe. Dan word hulle ook deel van die mense wat aan My behoort. Gaan sê dit alles vir hulle.’”

19. “Geagte koning Agrippa, niemand kan aan so ’n visioen ongehoorsaam wees nie.

20. Ek het vir die mense in Damaskus gaan vertel om tot bekering te kom. Ek het vir hulle gesê om hulle lewe aan God te gee en om so te leef dat almal kan sien dat hulle in Hom glo. Daarna het ek presies dieselfde vir die mense in Jerusalem en in Judea gaan sê. Ek het ook na mense gegaan wat nie tot die Joodse volk behoort nie en vir hulle van Jesus vertel.

21. “As gevolg van my prediking oor die hele wêreld was die Jode in Jerusalem later baie kwaad vir my. Toe ek op ’n keer in die tempel kom, het hulle my gevang en my amper doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26