Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Die ironie van dit alles is dat ek nou aangekla word omdat ek al die beloftes wat God aan ons voorouers gemaak het met my hele lewe glo.

7. Ek glo dieselfde dinge as dié waaraan al die Israeliete nog die hele tyd vasgehou het. Hulle het ook geglo dat God sal doen wat Hy belowe het.

8. “Geagte koning Agrippa, ek kan nie begryp hoekom ek nou deur die Jode aangekla word omdat ek God se Woord glo nie. Ek glo met my hele lewe dat God in staat is om die dooies weer lewendig te maak. Waarom is dit dan vir julle Jode so moeilik om te glo dat God dooies lewendig kan maak? En u, koning Agrippa, dink u ook dis onmoontlik?

9. “In elk geval, vroeër, toe ek nog ’n vyand van Jesus van Nasaret was, het ek my bes gedoen om almal uit te roei wat in Hom geglo het.

10. Ons godsdienstige leiers het toegelaat dat ek Jerusalem se tronke vol maak met hierdie mense. Ek het nie gehuiwer om ja te sê wanneer een van hulle doodgemaak moes word nie.

11. Ek het hulle selfs in die Joodse aanbiddingsplekke gaan uitsnuffel en hulle gedwing om hulle geloof te laat vaar. Later het ek ook begin om hulle in stede ver buite Jerusalem te vervolg.”

12. “Ek was juis op ’n dag op pad na Damaskus met toestemmingsbriewe om Christene daar te gaan vang, toe ’n skerp lig in die middel van die dag skielik op my en my reisgenote begin skyn.

13. Geagte koning, hierdie lig uit die hemel was baie skerper as die son.

14. Ons almal het so groot geskrik dat ons op die grond neergeval het. Ek het ’n stem gehoor wat in Hebreeus vir my sê: ‘Saul, Saul, hoekom is jy besig om My te vervolg? Jy kan nie so aanhou nie. Hou op om jou teen My te verset.’

15. “‘Wie is U, Here?’ het ek gevra.“Die Here het geantwoord: ‘Ek is Jesus. Jy is besig om My te vervolg.

16. Maar staan nou dadelik op, want Ek het ’n baie spesiale taak vir jou. Ek het aan jou verskyn sodat jy van nou af my dienskneg kan wees.

17. “‘Jy moet vir ander mense gaan vertel wat jy vandag gesien het. Jy moet ook gaan praat oor dit wat Ek nog vir jou sal sê wanneer Ek later weer aan jou verskyn. Ek het jou vrygemaak.

18. “‘Nou moet jy teruggaan na jou volk en na ander mense buite Israel en hulle oë ook gaan oopmaak. Jy moet vir elkeen wat nog in die donker leef, gaan vertel van die lig. Ruk hulle uit die kloue van Satan sodat hulle God se goedheid kan ken. Sê vir hulle om in My te glo. “‘Dan word al hulle sondes vergewe. Dan word hulle ook deel van die mense wat aan My behoort. Gaan sê dit alles vir hulle.’”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26