Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:21-27 Die Boodskap (DB)

21. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek staan voor julle omdat ek in die opstanding van die dooies glo.’”

22. Nadat Feliks na Paulus se verdediging geluister het, het hy besluit om die saak uit te stel. Hy het meer van die Christendom af geweet as wat hy wou voorgee. Maar hy het vir tyd gespeel omdat hy nie die Jode se goedgesindheid wou verloor nie. Daarom het hy vir hulle gesê: “Wanneer Lisias, die Romeinse bevelvoerder in Jerusalem, hier opdaag en ek ook na sy kant van die saak geluister het, sal ek ’n uitspraak in hierdie saak lewer.”

23. Daarna het Feliks een van sy kapteins beveel om Paulus weer te laat opsluit. Hy het Paulus nou egter heelwat meer vryhede toegelaat en sy vriende kon hom besoek.

24. ’n Paar dae later het Feliks en sy Joodse vrou, Drusilla, vir Paulus laat haal. Hulle wou hoor wat hy alles oor sy geloof in Jesus Christus te sê gehad het.

25. Paulus het die geleentheid gebruik om met hulle te praat oor die volgende belangrike sake: hoe om jou saak met God reg te maak; hoe om sondige begeertes onder beheer te kry, en wat alles gaan gebeur op die laaste dag wanneer God terugkom om te oordeel. Sy woorde het Feliks en Drusilla baie benoud gemaak. Daarom het Feliks hom gou na sy sel toe teruggestuur met die woorde: “Dit is vir eers genoeg. Later, as ek tyd het, sal ek jou weer laat haal. Dan kan ons verder gesels.”

26. Feliks het in die stilligheid gehoop dat Paulus hom omkoopgeld sou aanbied om hom vry te laat. Daarom het hy Paulus daarna gereeld laat haal om met hom te kom praat. So het twee jaar verbygegaan.

27. Feliks is toe deur Porcius Festus as die nuwe Romeinse goewerneur opgevolg. As ’n laaste guns aan die Jode het Feliks egter vir Paulus in gevangenskap in Sesarea agtergelaat.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24