Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Toe pinksterdag aanbreek, was al die gelowiges in die kamer waar hulle gewoonlik bymekaargekom het. Skielik het hulle

2. ’n geweldige dreuning bokant hulle in die lug gehoor. Dit het soos ’n reusestormwind geklink. Dit het die hele gebou waarin hulle was, gevul.

3. Toe sien hulle iets wat soos vuurvlamme lyk oor elkeen van hulle kom.

4. Almal is toe met die Heilige Gees volgemaak. Hulle het dadelik in ander tale begin praat. Die Gees het hulle in staat gestel om dit te doen.

5. Gedurende die feestyd was daar baie Joodse pelgrims van oor die hele wêreld in Jerusalem.

6. Hulle het ook die geweldige geluid gehoor en dadelik na die gebou toe gehardloop waar die gelowiges bymekaar was.

7. Hulle was stomgeslaan toe hulle daar aankom en hoor hoe die gelowiges in verskillende tale praat. “Hoe kan dit wees?” het hulle vir mekaar gevra. “Hierdie mense kom dan daar van Galilea af.

8. Hoe kry hulle dit reg om nou in ons eie taal met ons te praat? Hier tussen ons is mense van oral in die wêreld.

9. Kyk net, hier is Perse, Mediërs, Elamiete en ook mense wat in Mesopotamië bly.

10. Ons merk ook mense op uit Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en uit dele van Libië. Ja, daar staan selfs ’n klompie uit Rome.

11. Behalwe al die Jode van oor die hele wêreld staan hier ook mense uit ander volke wat later die Joodse geloof aangeneem het. Daar is inwoners van die eiland Kreta en ook ’n groep Arabiere. En tog hoor ons almal nou in ons eie taal hoe dié mense met ons praat oor al die groot dinge wat God doen.”

12. Die skare kon nie mooi uitmaak wat aan die gebeur was nie. Hulle het verbaas vir mekaar gevra: “Wat gaan aan?”

13. ’n Paar spotters het gesê: “Hierdie spul mense is dronk. Hulle het heeltemal te veel wyn gedrink.”

14. Saam met die elf ander apostels het Petrus vir die skare beduie om stil te bly. Toe sê hy vir hulle: “Vriende, mede-Jode en inwoners van Jerusalem, luister nou mooi na my.

15. Hierdie mense is nie dronk soos party van julle dink nie. Dis dan nou eers nege-uur in die oggend.

16. Kom ek vertel julle wat hier aan die gebeur is. Die woorde van Joël het pas waar geword. Julle onthou hoe hy geskryf het:

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2