Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:9-24 Die Boodskap (DB)

9. Die volgende dag, terwyl hierdie drie mans op pad was Joppe toe, het Petrus so teen twaalfuur die middag op die dak van die huis waar hy gebly het, geklim om te bid.

10. Nadat Petrus ’n ruk lank gebid het, het hy honger geword. Hy wou iets te ete gaan kry, maar die vroue was nog nie klaar met die middagete nie.

11. Toe het hy skielik ’n visioen gesien.

12. Reg voor sy oë het die hemel oopgegaan en iets soos ’n laken wat aan sy vier hoeke vasgemaak is, het tot op die grond voor hom afgesak.

13. Binne-in was allerhande soorte diere, en ook ’n klomp reptiele en voëls. ’n Stem het vir hom gesê: “Staan nader, Petrus, begin slag en eet!”

14. “Oor my dooie liggaam. Ek sal nooit so iets doen nie, Here!” het hy geantwoord. “Ek het nog nooit in my lewe iets geëet wat in Moses se wet as onrein beskou word nie.”

15. Die stem het weer ’n keer met Petrus gepraat: “As God sê dat jy iets kan eet, mag jy dit maar doen. Dan mag jy nie sê dit is onrein nie.”

16. Dit het drie maal gebeur. Toe is die laken weer teruggevat in die hemel in.

17. Terwyl Petrus nog sit en kopkrap oor wat die visioen kon beteken, het die geselskap van Kornelius af by die voordeur kom aanklop.

18. Hulle het gevra of Petrus daar bly. Petrus het hulle nie gehoor nie. Hy het steeds gewonder wat sy visioen beteken. Daarom het die Heilige Gees vir hom gesê:

19. “Daar by die voordeur staan drie mans wat op soek is na jou. Gaan dadelik af ondertoe. Gaan saam met hulle na hulle huis toe.

20. Moenie huiwer nie, want Ek het hulle gestuur om jou te kom haal.”

21. Petrus het die mans vriendelik gaan groet en vir hulle gesê: “Julle is op soek na my. Hoekom?”

22. Een van hulle het geantwoord: “Kornelius, ons bevelvoerder, ’n goeie man wat groot respek vir God het - u kan maar vir enige Jood vra - het by ’n engel ’n boodskap gekry om u te laat haal. U moet asseblief met hom kom praat.”

23. Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee.Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan.

24. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10