Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:40-48 Die Boodskap (DB)

40. Op die derde dag na sy dood het God Hom weer lewendig gemaak.

41. Hy het ook toegelaat dat Jesus vir ’n klompie mense kom wys dat Hy lewe, maar nie vir almal nie. God het vooraf sekere mense uitgesoek aan wie Jesus verskyn het. Ek en die ander apostels is daardie bevoorregte groepie. Ons paar het die voorreg gehad om saam met Jesus te eet en te drink nadat Hy weer lewendig geword het.

42. “Jesus het ons beveel om hierdie nuus oral te gaan oorvertel. Ons moet vir almal gaan sê dat Hy deur God self aangestel is as Regter oor almal op die aarde, oor almal wat lewe en wat reeds dood is.

43. “Dit is nie net ons wat hierdie dinge sê nie. Die profete sê ook dat elkeen wat in Hom glo, se sondes deur God weggevat word.”

44. Petrus was nog besig om te praat, toe kom die Heilige Gees oor almal wat na hom gesit en luister het.

45. Die Joodse gelowiges wat saam met hom na Sesarea gekom het, was baie verbaas daaroor. Hulle kon nie glo dat God sy Heilige Gees oor mense uit ander volke laat kom nie.

46. Tog het hulle dit nou met hulle eie oë gesien, en ook gehoor! Want hierdie mense het dadelik in ongewone tale begin praat en God se Naam grootgemaak.

47. Terwyl dit gebeur, vra Petrus vir die ander gelowiges saam met hom: “Wie sal beswaar maak as hierdie mense gedoop word? Hulle het ook die Heilige Gees ontvang, net soos ons.”

48. Petrus het toe beveel dat almal in Kornelius se huis gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hy nog ’n paar dae by Kornelius oorgebly.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10