Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:23-34 Die Boodskap (DB)

23. Petrus het die mans ingenooi en hulle vir die nag slaapplek gegee.Die volgende dag het Petrus saam met die mans vertrek. ’n Paar gelowiges uit Joppe het ook saamgegaan.

24. ’n Dag later het hulle in Sesarea aangekom. Intussen het Kornelius opgewonde op hulle koms gewag. Hy het selfs sy familie en vriende laat kom om saam met hom te luister na wat Petrus te sê het.

25. Toe Petrus by Kornelius se huis opdaag, het hy nader gestap om hom te verwelkom. Hy het op sy knieë voor Petrus neergeval om hom te aanbid.

26. “Nee, wag, hou op! Ek is ’n doodgewone mens,” het Petrus gesê.

27. Hulle twee is die huis in. Daar het ’n groot groep mense op hulle gewag.

28. Petrus sê toe vir hulle: “Dit wat ek nou doen, mag ons Jode eintlik nie doen nie. Soos julle weet, durf ons nie in mense uit ander volke se huise ingaan of met hulle meng nie. Maar gelukkig het God my oë oopgemaak. Hy het vir my gewys dat ek glad nie op mense uit ander volke mag neersien nie.

29. Dis hoekom ek nie ’n oomblik gehuiwer het om hierheen te kom toe Hy my beveel het om dit te doen nie. Maar sê my, hoekom het julle my nou eintlik laat haal?”

30. Kornelius het dadelik geantwoord: “Vier dae gelede, so omtrent dié tyd van die middag, was ek besig om hier in my huis te bid. Skielik kom staan daar ’n man met helder, blink klere by my.

31. Hy het vir my gesê: ‘Kornelius, God het na jou gebede geluister. Hy het al die goeie dinge raakgesien wat jy vir ander mense doen.

32. Jy moet nou dadelik mense Joppe toe stuur om vir Petrus te gaan haal. Hy bly daar in die huis van Simon die leerlooier by die see.’

33. “Ek het dadelik gedoen wat die engel vir my gesê het. En nou is u hier. My familie en vriende is ook hier in God se teenwoordigheid. Ons wil baie graag hoor wat die Here op u hart gelê het om vir ons te kom sê.”

34. “Weet julle, ek sien nou dat God niemand voortrek nie,” het Petrus geantwoord. “Hy het regtig nie witbroodjies nie!

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10