Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 4:25-31 Die Boodskap (DB)

25. Die een ooreenkoms is daar by die berg Sinai in Arabië gesluit. Daar het die volk die wet ontvang. Ongelukkig het daardie ooreenkoms net ’n klomp slawe opgelewer, presies soos dit ook met Hagar, Abraham se slavin, gebeur het. Wel, dieselfde geld vir almal wat die wet probeer hou.

26. Kyk net na wat daar in Jerusalem aangaan, dan sal julle agterkom dat hulle almal eintlik Hagar se nageslag is. Hulle is slawe van die wet met al sy reëls en regulasies. Gelukkig is daar ’n ander Jerusalem wat nie in slawerny verval het nie. Hierdie Jerusalem, wat die resultaat is van God se tweede ooreenkoms met ons, is daar in die hemel. Dit is ons nuwe adres. Hierdie Jerusalem is soos ’n ma vir ons almal wat glo.

27. Jesaja skryf die volgende oor haar:“Vrou, jy wat nie in staat was om kinders te hê nie, kan nou feesvier. Skree sommer van vreugde, jy wat nog nooit geboortepyne gehad het nie. Jy was baie eensaam. Jy het nie die vreugde van kinders geken nie. Maar nou sal jy meer kinders hê as al die ander vroue wat getroud is.”

28. My broers en susters, uit hierdie voorbeeld is dit duidelik dat ons, net soos Abraham se seun Isak, ook deel is van die tweede ooreenkoms.

29. Onthou julle nog hoe Isak, wat deur die Gees se werk gebore is, deur Ismael agtervolg is? Tot vandag toe gaan dit nog so.

30. Daarom sê die Bybel: “Jaag daardie slavin en haar seun weg. Daardie seun van die slavin mag onder geen omstandighede saam met die regte seun erf nie.”

31. Hierdie teks sê vir ons dat ons nie die kinders van ’n slavin is nie. Nee, ons wat glo, is Abraham se kinders.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 4