Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 4:11-18 Die Boodskap (DB)

11. Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het.

12. My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het.

13. Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was.

14. Nie een van julle het ’n skewe woord vir my gesê of my sleg behandel nie.

15. Onthou julle nog hoe siek ek was toe ek daardie eerste maal by julle kom preek het? Tog het julle my baie goed versorg. Dit was glad nie vir julle ’n probleem of ’n verleentheid om dit te doen nie. Trouens, julle het my op dieselfde manier ontvang as wat julle ’n engel van God, ja, vir Jesus Christus self sou ontvang. Wat het dan van julle blydskap en gasvryheid geword? Party van julle sou in daardie tyd selfs julle oë uitgehaal en vir my gegee het.

16. Maar nou is ek skielik julle vyand! En dit net omdat ek vir julle die waarheid vertel.

17. Weet julle, daardie vals predikers wat nou by julle optree, maak net asof hulle vir julle omgee. Maar hulle draai julle eintlik ’n rat voor die oë. Hulle misbruik net julle goedheid tot hulle eie voordeel. Hulle wil net hê julle moet hulle op die hande dra en ’n groot ophef van hulle maak. Julle moet oppas vir hulle!

18. Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen, ook nou wanneer ek ver van julle af is.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 4