Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 4:12-18 Die Boodskap (DB)

12. Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe.

13. Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

14. Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het.

15. My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help.

16. Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het.

17. Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was.

18. Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie.

Lees volledige hoofstuk Filippense 4