Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1:5-14 Die Boodskap (DB)

5. Julle staan mos soos een man saam agter God se goeie boodskap met nog presies dieselfde vuur en oortuiging as aan die begin.

6. Van een ding is ek seker: dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur. Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom. Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees.

7. Ek het rede om so oor julle almal te voel. Ek het nog altyd ’n baie besondere plekkie vir julle gehad. Julle was mos van die begin af aan my kant, soos nou nog steeds. Dit het vir julle nie saak gemaak of ek in die tronk gegooi is of soos ’n misdadiger in die hof moes veg en beledig is omdat ek vir mense van Jesus vertel het nie. God was egter deur dit alles goed vir my, en dit het julle die hele tyd saam met my ervaar.

8. Ek verlang baie na julle, gaan vra maar vir God self; Hy sal julle kan sê hoe baie ek verlang. Julle weet hoe baie Christus vir julle omgee. Nou ja, ek gee net soveel vir julle om.

9. Weet julle waarvoor bid ek? Ek bid dat julle al hoe nader aan Jesus sal leef. Dit is moontlik as julle bereid is om uit julle geestelike ervaring te leer.

10. Dan sal julle altyd die beste keuses kan maak. Dit sal sorg dat wanneer Jesus weer kom, niemand ’n vinger na julle sal kan wys en julle van swakhede beskuldig nie. In alles wat julle doen, sal mense kan sien dat julle verhouding met God reg is.

11. Jesus Christus sal julle help om reg te lewe. So sal mense aan julle kan sien hoe wonderlik God is.Dan sal hulle met opgewondenheid oor sy grootheid praat.

12. My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel. Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is, maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed? Dit help die verkondiging van die evangelie aan.

13. Nie net al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense sien duidelik dat ek hier in die tronk is net omdat ek ’n Christen is.

14. Dit het bowendien ’n goeie invloed op die meeste ander mense wat ook die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat.

Lees volledige hoofstuk Filippense 1