Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 1:27-30 Die Boodskap (DB)

27. Gedra julle altyd so dat julle ’n advertensie vir Christus is. Daarmee moet julle regtig moeite doen. Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou na julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.

28. Moenie dat die ander wat van julle verskil, julle senuagtig of bang maak nie. Die feit dat julle nie sommer weghardloop nie, sal vir hulle wys dat hulle op die verkeerde pad en julle op die regte pad is. Julle pad loop na God toe. Hy is die Een wat julle red omdat julle in Christus glo. Ons het dit nie verdien nie, maar God het dit ter wille van Christus vir ons gedoen.

29. Daarom is dit nie te veel gevra om ter wille van Christus ook swaar te kry nie. Kyk maar na my. Ek is nie al een wat ter wille van Jesus swaarkry nie.

30. Ek en julle stap sy aan sy as Christene, en daarom lê daar soms ook vir julle ’n moeilike, opdraande pad voor.

Lees volledige hoofstuk Filippense 1