Ou Testament

Nuwe Testament

Filemon 1:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Van Paulus. Ek is op die oomblik in die tronk omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus bekendmaak. Timoteus, my broer in die Here, is ook hier by my. Ek skryf hierdie brief aan jou, Filemon, my liewe vriend wat saam met my in die Here se diens staan.

2. En ook aan Affia, ons suster in die Here.En aan Argippus, wat hard saam met ons veg in die Here se werk.Ook aan almal in die gemeente wat gereeld daar in jou huis bymekaarkom.

3. God ons Vader en die Here Jesus Christus skenk aan julle almal genade en vrede.

4. Filemon, ek dink gedurig aan jou en ek bid so baie vir jou. Ek sê elke keer vir God baie dankie wanneer ek aan jou dink, want ek hoor net die wonderlikste dinge van jou.

5. Almal praat van jou onverskrokke geloof in die Here Jesus en van jou liefde vir Hom en vir ander gelowiges.

6. Ek bid dat jou verhouding met my as jou broer in die geloof jou nog meer sal laat besef watter goeie dinge God aan ons geskenk het. Dit is ons deel omdat ons in Christus glo.

7. My liewe vriend, jou liefde vir ander Christene is vir my ’n riem onder die hart. Dit bring groot vreugde en troos vir my. Jy het al so baie beteken vir mense wat God dien.

8. Filemon, ons albei glo in Christus. Daarom sou ek jou kon beveel om te doen wat ek jou nou wil vra.

9. Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus.

Lees volledige hoofstuk Filemon 1