Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 2:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus.

6. Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê.

7. Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie.

8. As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie.

9. Vroue moet ook ordentlik aantrek sodat hulle nie die verkeerde boodskap vir ander mans gee en so hulle eie man in die verleentheid bring nie. Hulle moet so aantrek dat God en hulle man tevrede sal wees.

10. Vroue wat geen geheim daarvan maak dat hulle die Here dien nie, moet hulle lewe eerder versier met al die goeie dinge wat hulle vir ander mense doen. Dit maak hulle baie mooier as wat duur klere of mooi juwele dit ooit kan doen.

11. ’n Vrou moet ook nie voor op die wa wees en iets anders wil wees as wat sy is nie. Sy moet in stilte gewillig wees om te leer.

12. Ek wil nie hê dat vroue die mans se werk moet doen terwyl hulle besig is om die gemeente te leer nie. Hulle moenie probeer baasspeel oor die mans nie, maar eerder stil sit en luister.

13. God het Adam eerste gemaak en daarna vir Eva.

14. Satan het ook nie vir Adam in die strik ingelok nie, maar vir Eva. Hy het haar uitgevang en sy het toe iets gedoen waarvan God niks gehou het nie.

15. Gelukkig vir haar vergoed sy weer daarvoor deur kinders te hê, mits sy natuurlik op God bly vertrou. Sy moet God ook liefhê en net vir Hom lewe.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 2