Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 1:11-20 Die Boodskap (DB)

11. Wat het hulle geleer? Hulle het die wonderlike boodskap geleer wat ek vir ander moes vertel. Dit gaan oor hoe groot en goed God is.

12. Ek is Christus Jesus baie dankbaar dat Hy my vertrou en my gevra het om hierdie werk vir Hom te doen. Hy gee my ook die krag om dit te kan doen.

13. Hy het my die werk gegee om te doen al het ek vroeër lelike dinge oor Hom gesê, sy volgelinge in die moeilikheid probeer bring en hulle selfs met geweld seergemaak. Maar God het my jammer gekry omdat ek nie geweet het wat ek doen nie, want ek het nog nie in God geglo nie.

14. Die Here het my toe eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en om ander lief te hê soos Hy my liefhet.

15. Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie: Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ’n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan.

16. Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie. Ons moet dit onthou as voorbeeld vir almal wat Jesus nog gaan teëkom en wat dan vir ewig saam met God gaan lewe omdat hulle op Jesus vertrou.

17. Laat ons nooit ophou om die enigste God groot te maak en vir almal te vertel hoe wonderlik Hy is nie. Hy is ons Heerser vir altyd; niemand kan Hom sien nie en Hy gaan ook nie dood nie. So is dit en so sal dit bly.

18. Timoteus, my seun, laat ek vir jou verduidelik wat ek wil hê jy moet doen. God het mos ’n profesie gegee oor wat jy aan party mense in die gemeente gaan doen. Hulle het dit vir die gemeente vertel. As jy dit doen, sal jy ’n wenner wees.

19. Moenie iets doen waaroor jy sleg sal voel nie en vertrou Jesus Christus. Party mense wou niks weet van hierdie dinge nie en verkeerde dinge het hulle later nie meer gepla nie. Daarom is daar ook niks van hulle Christenskap oor nie en hulle vertrou ook nie meer op Jesus nie.

20. Dis die pad wat mense soos Himeneus en Aleksander geloop het. Daarom het ek hulle verbied om in die gemeente te kom. Hulle moet uitvind hoe dit is om sonder die Here klaar te kom sodat hulle kan leer om nie lelike dinge oor God te sê nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 1