Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 4:10-18 Die Boodskap (DB)

10. Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.

11. Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was.

12. As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie.

13. My broers en susters, ek wil nie hê julle moet vrae hê oor wat gaan gebeur met dié gelowiges wat reeds dood is op daardie dag wanneer Christus terugkom na die wêreld toe nie. Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie.

14. Ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Net so sal God almal wat voor hulle dood in Jesus geglo het, saam met Hom bring wanneer Hy weer na ons toe kom.

15. Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie.

16. Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word.

17. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.

18. Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 4