Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 1:5-15 Die Boodskap (DB)

5. God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur wat julle geestelik kan seermaak nie. Hy is sterk genoeg om dit te kan doen. Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red. Alles is al reg daarvoor. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God al die wonderlike dinge wat Hy vir julle reggemaak het, vir julle kom uitdeel. Daarvan kan julle seker wees en daarom kan julle inderdaad baie bly en opgewonde wees.

6. Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker is nie en

7. wat julle geloof op allerhande maniere toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie. Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is, hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ’n baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit, weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer gemaak word. As julle geloof deur al die moeilikhede heen sterk bly, sal daar by die wederkoms van Jesus gesê word watter mooi voorbeeld julle met julle geloof gestel het. Almal sal daaroor praat.

8-9. Julle het Jesus wel nie gesien toe Hy op aarde was nie, tog maak dit nie vir julle saak nie. Julle het Hom lief en bly lojaal teenoor Hom. Julle bly op Hom vertrou. Dit is nie asof alles eers eendag daar ver gaan gebeur nie. Omdat ons op Jesus vertrou, kan ons sê dat ons saak nou reeds met God reg is. Dit is waarom ons in Jesus glo. Ek kan julle nie sê hoe bly dit ons maak nie. Ons loop behoorlik oor van dié wonderlike vreugde.

10. Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur.

11. Die Gees van Christus wat ook in hulle aan die werk was, het hulle daarmee gehelp. Die Gees het vooraf duidelik gesê dat Christus sal moet ly, maar dat God daarna aan Hom groot eer sal bewys.

12. So het daardie profete besef dat hulle boodskap eintlik nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle. Die mense wat dus die goeie boodskap van Jesus vir julle kom vertel het, is so deur die Heilige Gees gelei. Hierdie boodskap is so wonderlik dat selfs die engele opgewonde is om te sien wat alles gaan gebeur.

13. Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie. Jesus sal vir julle geskenke bring wanneer Hy weer kom, ver bo wat julle verdien. Dit weet julle mos vir seker. Tree op soos God se kinders wat graag doen wat Hy vra.

14. Vergeet heeltemal van al die dinge wat julle vroeër so graag gedoen het. Die lus of gevoel om daardie ou verkeerde dinge weer te doen, moet nie eens by julle opkom nie. Julle het toe mos nie van beter geweet nie.

15. Die manier waarop julle nou leef, moet anders wees. God het julle geroep om Syne te wees. Hy is sonder sonde, omdat Hy heeltemal anders is as die sonde en Hy niks met die sonde te doen wil hê nie. Net soos God moet julle ook niks met die sonde te doen hê nie. Bly daarvan weg.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 1