Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 15:33-49 Die Boodskap (DB)

33. Moenie julle met ’n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie. Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo.

34. Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie.

35. Iemand onder julle wonder dalk: “Hoe op aarde kan iemand wat dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?”

36. Dis darem ’n dom vraag. Julle weet mos dat ’n saad wat jy in die grond saai ’n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ’n rukkie, kom die lewendige plantjie uit.

37. En verder, as jy byvoorbeeld ’n mielie plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. Jy plant die mieliepit.

38. God besluit dan self hoe die plant moet lyk - elke soort saad gee mos ’n ander soort plant.

39. Die diere en mense verskil net so. ’n Mens is mos anders gebou as ’n dier of ’n vis.

40. Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die son is op ’n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi.

41. Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word.

42. Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie.

43. Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots. Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag.

44. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam.Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam.

45. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak.

46. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later.

47. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom.

48. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus.

49. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 15