Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 1:22-31 Die Boodskap (DB)

22. Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word.

23. Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is.

24-25. Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie.

26. My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan.

27. God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer. Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak.

28. Dinge waaraan mense hulle nie steur nie en wat hulle dink nutteloos is, gebruik God om sy doel te bereik. So word dinge wat mense weer dink iets werd is, nutteloos wanneer dit by God se planne kom.

29. Geen mens kan dus voor God gaan staan en spog dat hy iets met die reddingsplanne van God te doen het en daarvoor geprys moet word nie.

30. God en God alleen het dit vir julle moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken. Jesus is die Een deur wie ons kan sien watter slim planne God gemaak het: deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak.

31. Daar staan mos geskryf:“As iemand wil spog, laat hom spog oor wat die Here gedoen het.”

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 1