Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5:2-9 Die Boodskap (DB)

2. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy van ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel.

3. Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie,

4. want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld wen, is deur naby aan Jesus te leef.

5. Dus: Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God.

6. Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis. Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde.

7. Daar is drie wat getuienis aflê:

8. eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde.

9. Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 5