Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 4:14-24 Bybel vir Almal (ABA)

14. Debora sê toe vir Barak: “Maak oorlog teen hulle, want die Here sal jou vandag laat wen teen Sisera. Onthou, die Here gaan voor jou, Hy sal jou help.”Barak het afgegaan van Tabor-berg, en die 10 000 manne het saam met hom gegaan.

15. Die Here het Sisera en al sy manne op die oorlogkarre en al sy soldate baie groot laat skrik vir Barak. Sisera self het van sy oorlogkar afgespring en gevlug.

16. Barak en sy manne het die oorlogkarre en die leër van Sisera gevolg en gejaag tot by Garoset-Gojim, en hulle het al die soldate doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie.

17. Sisera het gehardloop en gevlug na die tent van Jael, die vrou van die Keniet Geber. Daar was vrede tussen die familie van die Keniet Geber en koning Jabin van Hasor.

18. Jael het vir Sisera gaan ontmoet. Sy het vir hom gesê: “Kom, Meneer, kom na my toe. Moenie bang wees nie.”Sisera het na haar tent gekom, en sy het hom laat wegkruip onder ’n kombers.

19. Hy het vir haar gesê: “Ek is dors. Gee vir my asseblief ’n bietjie water om te drink.”

20. Sy het die melksak oopgemaak en vir hom melk gegee om te drink. Daarna het sy hom weer toegemaak. Hy het vir haar gesê: “Jy moet by die tentdeur staan, en as iemand vir jou vra of hier iemand is, dan moet jy sê: ‘Nee.’ ”

21. Sisera was moeg en hy het aan die slaap geraak. Geber se vrou Jael het toe ’n tentpen en ’n hamer gevat en saggies na Sisera toe gegaan. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond. Hy het gesterf.

22. Barak het vir Sisera kom soek, en Jael het na Barak toe gegaan. Sy het vir hom gesê: “Kom, ek sal vir jou die man wys wat jy soek.”Barak het na haar tent gekom, en toe lê Sisera daar dood. Die tentpen was deur sy kop.

23. Ja, die Here het daardie dag vir koning Jabin van Kanaän verneder. Die Israeliete het gewen.

24. Die Israeliete het ’n sterker volk geword en hulle het koning Jabin van Kanaän verdruk, totdat hulle hom heeltemal oorwin het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 4