Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:32-46 Bybel vir Almal (ABA)

32. Die Benjamin-mense het gedink hulle het die Israeliete oorwin soos voorheen, maar die Israeliete het gesê: “Kom ons vlug, dan sal die Benjamin-mense op die paaie ver van die stad moet kom.”

33. Die manne van die Israeliete het toe weggegaan van hulle plekke en hulle het by die stad Baäl-Tamar gaan wag. Die ander manne wat weggekruip het wes van Gibea, het ook uit hulle plekke opgespring,

34. en 10 000 van die beste manne van die Israeliete het tot by Gibea gekom. Hulle het almal hard geveg, maar die Benjamin-mense het nog nie geweet hoe sleg dit met hulle sal gaan nie.

35. Die Here het die Israeliete laat wen, en hulle het daardie dag 25 100 van die Benjamin-mense doodgemaak.

36. Toe het die Benjamin-mense gesien hulle het die oorlog verloor. Dit is wat gebeur het: Die manne van die Israeliete het weggevlug van die Benjamin-mense, want die Israeliete het geweet wat die manne sal doen wat hulle by Gibea laat wegkruip het.

37. Daardie manne het vinnig in Gibea ingehardloop en hulle het al die mense in die stad doodgemaak.

38. Hulle het vir die ander Israeliete gesê hulle sal ’n vuur maak in die stad,

39. en wanneer die Israeliete die rook sien, dan moet hulle omdraai en begin veg. Die Benjamin-mense het begin om die Israeliete dood te maak, omtrent 30 manne, en hulle het gedink hulle het weer die oorlog gewen soos voorheen.

40. Maar toe begin die rook uit die stad opgaan, en toe die Benjamin-mense omkyk, het hulle gesien die hele stad is aan die brand.

41. En toe draai die Israeliete om, en die Benjamin-mense het baie bang geword, want hulle het besef hulle verloor.

42. Hulle het op die woestynpad probeer wegvlug van die Israeliete, maar die Israeliete het aangehou om hulle dood te maak. Ander manne het uit die stede gekom en hulle het ook die Benjamin-mense aangeval.

43. Daar was Israeliete voor en agter die Benjamin-mense, en hulle het aangehou om die Benjamin-mense dood te maak oos van Gibea. Daar was nie tyd om te rus nie.

44. Die Israeliete het daar 18 000 van Benjamin se manne doodgemaak, almal dapper manne.

45. Die ander Benjamin-mense het na die woestyn gevlug, na die Rimmon-rots, maar terwyl hulle gevlug het, het die Israeliete nog 5 000 manne van Benjamin doodgemaak, en tot by Gidom nog 2 000.

46. Daardie dag het 25 000 van Benjamin se manne gesterf.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20