Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:15-29 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die Benjamin-mense het 26 000 manne gehad wat kon oorlog maak, en hulle het nog 700 manne gekies uit die mense van Gibea.

16. Van daardie manne was 700 links, maar hulle kon baie goed gooi met ’n slingervel. Hulle kon ’n haar raakgooi, hulle het nie misgegooi nie.

17. Die ander Israeliete het 400 000 manne gehad wat kon oorlog maak, almal was goeie soldate.

18. Hulle het gereedgemaak en na Bet-El gegaan om vir God te vra wie eerste moet begin oorlog maak teen die Benjamin-mense. Die Here het gesê: “Die Juda-stam moet eerste gaan.”

19. Die Israeliete het die oggend gereedgemaak en hulle het hulle tente opgeslaan by Gibea.

20. Die manne van die Israeliete het uit die kamp gegaan en hulle het gereedgestaan om teen die mense van Gibea oorlog te maak.

21. Maar toe kom die Benjamin-mense uit Gibea en hulle maak daardie dag 22 000 manne van die Israeliete dood.

22. Die manne van die Israeliete was dapper. Hulle het weer gaan gereedstaan op die plek waar hulle die eerste dag gestaan het.

23. Maar die Israeliete het eers weer na die tempel in Bet-El gegaan en hulle het daar tot die aand voor die Here gesit en huil. Hulle het vir die Here gevra of hulle weer oorlog moet gaan maak teen hulle broers, die Benjamin-mense, en die Here het gesê: “Ja, julle moet teen hulle gaan oorlog maak.”

24. Maar toe die Israeliete die tweede dag nader gaan om oorlog te maak,

25. het die Benjamin-mense weer uit Gibea gekom en hulle het daardie dag nog 18 000 manne van die Israeliete doodgemaak.

26. Al die Israeliete, al die manne, het weer na Bet-El gegaan en hulle het daar by die tempel gaan sit en huil. Hulle het die hele dag gevas en hulle het brand-offers en ete-offers vir die Here gebring.

27-28. Die kis van die Here was in daardie tyd in Bet-El, en Pinehas was in daardie tyd die priester by die kis. Pinehas was van die nageslag van Eleaser seun van Aäron. Die Israeliete het vir die Here gevra: “Moet ons weer gaan oorlog maak teen ons broers, die Benjamin-mense, of moet ons ophou?”Die Here het geantwoord: “Ja, julle moet gaan, want môre sal Ek julle laat wen teen hulle.”

29. Die Israeliete het eers vir party van hulle manne gesê hulle moet naby Gibea gaan wegkruip sodat die Benjamin-mense hulle nie kan sien nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20