Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 19:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Maar hy het vir sy slaaf gesê: “Ons kan nie na ’n vreemde stad gaan wat nie aan Israeliete behoort nie. Kom ons gaan verder tot by die stad Gibea.”

13. Die Leviet het vir sy slaaf gesê: “Kom ons gaan nader na een van die plekke en gaan slaap in Gibea of in Rama.”

14. Hulle het verder gegaan, en toe hulle by Gibea kom, het die son ondergegaan. Gibea het behoort aan die Benjamin-stam.

15. Hulle het na Gibea gegaan om daar te slaap. Hulle het op die oop stuk grond aan die binnekant van die poort gaan sit, maar niemand het hulle genooi om by sy huis te slaap nie.

16. Maar toe kom daar ’n ou man van sy werk buite die stad. Hy het van die Efraim-berge gekom, en hy was ’n vreemdeling in Gibea, maar die mense van daardie plek was Benjamin-mense.

17. Toe die ou man sien daar is iemand wat net vir die nag daar op die oop stuk grond is, het hy vir hom gevra: “Waarnatoe gaan jy en van waar kom jy?”

18. Die Leviet het gesê: “Ons kom van Betlehem in die land Juda en ons gaan na ’n plek ver in die Efraim-berge. Dit is van waar ek kom. Ek het na Betlehem gegaan en ek gaan nou terug huis toe. Maar niemand het my genooi om by sy huis te slaap nie.

19. Ons het genoeg kos vir die donkies en ook kos en wyn vir my byvrou en my slaaf.”

20. Toe sê die ou man: “Julle is welkom by my huis. Ek sal vir julle alles gee wat julle nodig het. Maar julle moenie vannag hier op die oop stuk grond bly nie.”

21. Die ou man het hom na sy huis gebring en hy het vir die donkies kos gegee. Hulle het hulle voete gewas en geëet en gedrink.

22. Hulle het lekker geëet, maar toe het ’n klomp mans om die huis kom staan en hulle het teen die deur geslaan. Hulle was slegte mense. Hulle het vir die ou man aan wie die huis behoort het, gesê: “Bring die man wat in jou huis ingekom het. Ons wil seks hê met hom.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 19