Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 10:6-14 Bybel vir Almal (ABA)

6. Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het die Baäls en die Astartes gedien en ook die gode van die Arameërs, die Sidoniërs, die Moabiete, die Ammoniete en die Filistyne. Hulle het opgehou om die Here te dien.

7. Die Here het toe kwaad geword vir die Israeliete. Hy het die Filistyne en die Ammoniete gestuur om die Israeliete te oorwin.

8. Die Filistyne en Ammoniete het die Israeliete in dieselfde jaar oorwin en hulle het wrede dinge gedoen aan die Israeliete. Hulle het die Israeliete 18 jaar lank verdruk, die Israeliete wat anderkant die Jordaan-rivier gewoon het, in die land van die Amoriete, in Gilead.

9. Die Ammoniete het ook oor die Jordaan-rivier gekom om oorlog te maak teen die stamme van Juda en Benjamin en Efraim. Die Israeliete het baie swaar gekry

10. en hulle het gebid en gevra dat die Here hulle moet help. Hulle het gesê: “Ons het sonde gedoen teen U, ja, ons het opgehou om ons God te dien en ons het die Baäls gedien.”

11. Maar die Here het vir die Israeliete gesê: “Toe die Egiptenaars of die Amoriete julle verdruk het, of die Ammoniete of die Filistyne

12. of die mense van Sidon of die Amalekiete of die mense van Maon, toe het julle gevra Ek moet julle help en toe het Ek julle gered.

13. Maar julle het elke maal opgehou om My te dien en julle het ander gode gedien. Daarom wil Ek julle nie weer red nie.

14. Gaan bid tot die gode, julle het hulle gekies. Vra vir hulle om julle te red wanneer julle swaarkry.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 10