Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 1:9-18 Bybel vir Almal (ABA)

9. Daarna het die mense van Juda oorlog gemaak teen die Kanaäniete wat gewoon het op die berge en in die Suid-land en die Laeveld.

10. Hulle het ook gaan oorlog maak teen die Kanaäniete wat in die stad Hebron gewoon het. Hebron se naam was voorheen Kirjat-Arba. Daar het hulle vir Sesai, Agiman en Talmai oorwin.

11. Toe het die mense van Juda gaan oorlog maak teen die mense wat in die stad Debir gewoon het. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer.

12. Kaleb het vir sy soldate gesê: “Die man wat die stad Kirjat-Sefer oorwin en vir ons vat, hy kan met my dogter Aksa trou.”

13. Otniël het die stad oorwin. Hy was die seun van Kaleb se jonger broer Kenas. Kaleb het toe sy dogter Aksa vir Otniël gegee.

14. Die dag toe Aksa met Otniël trou, het sy vir Otniël gesê hy moet vir haar pa ’n stuk grond vra. Maar voordat sy op haar donkie weggery het, het sy self vir Kaleb gewys sy wil vir hom iets vra. Toe Kaleb vir haar vra wat sy wil hê,

15. het sy vir hom gesê: “Pa het vir my die Suid-land gegee. Maar gee nou vir my ook putte, sodat dit goed kan gaan met my.”Kaleb het vir haar die Boonste Put en die Onderste Put gegee.

16. Die Keniete was die nageslag van Moses se skoonpa. Hulle het van die stad Jerigo gekom, die stad waar baie palmbome gegroei het, en hulle het saam met die mense van Juda in die woestyn van Juda gaan woon, in die Suid-land rondom die stad Arad.

17. Die stam van Juda het saam met die stam van sy broer Simeon gegaan, en hulle het die Kanaäniete oorwin wat in die stad Sefat gewoon het. Hulle het al die mense en diere in die stad doodgemaak en hulle het die stad Gorma genoem.

18. Die mense van Juda het ook die stede Gasa, Askelon en Ekron oorwin, en hulle het die stede gevat saam met die grond rondom die stede.

Lees volledige hoofstuk Rigters 1