Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 2:12-26 Bybel vir Almal (ABA)

12. Ek het gedink ek wil uitvind hoe dit is om wysheid te hê en hoe dit is om ’n dwaas te wees. Ek wou weet of die persoon wat ná my koning sal word, iets sal kan doen wat ek nie gedoen het nie.

13. Ek het uitgevind dat dit beter is om wysheid te hê as om ’n dwaas te wees, dit is dieselfde soos lig wat beter is as donker.

14. As iemand wysheid het, dan sien hy wat rondom hom gebeur. ’n Dwaas is soos iemand wat in die donker lewe. Maar ek het hierdie les geleer: Die dinge wat met een mens gebeur, gebeur met almal.

15. Ek het vir myself gesê: Die dinge wat met ’n dwaas gebeur, sal ook met my gebeur. Het al my wysheid vir my gehelp? Nee. En ek het gedink dit is ook nie soos dit moet wees nie,

16. want die mense sal nie ’n dwaas lank onthou nie, maar hulle sal ook nie ’n wyse mens lank onthou nie. Hulle vergeet hom gou in die tyd wat later kom. Dwase mense sterf, en wyse mense sterf ook.

17. Daarom het ek begin om die lewe te haat. Die dinge wat mense in hierdie wêreld doen, het vir my verkeerd gelyk, want niks is soos dit moet wees nie. Mense jaag wind.

18. Ek het ook begin om al my harde werk in hierdie wêreld te haat, want iemand wat ná my lewe, sal alles kry waarvoor ek hard gewerk het.

19. En niemand weet of daardie persoon ’n wyse mens of ’n dwaas sal wees nie. Maar hy sal kan doen wat hy wil met alles waarvoor ek met wysheid hard gewerk het in hierdie wêreld. Ook dít is nie soos dit moet wees nie.

20. Ek het moedeloos geword toe ek dink aan al die harde werk wat ek in hierdie wêreld gedoen het.

21. Want iemand werk hard en hy gebruik sy wysheid, hy weet wat hy doen en hy doen dit goed, maar dan moet hy sy goed los vir ’n persoon wat nie hard gewerk het nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie, dit is baie verkeerd.

22. Wat kry ’n mens vir al sy harde werk in hierdie wêreld? Wat kry hy vir alles wat hy wou doen?

23. So ’n mens het elke dag pyn, hy geniet niks wat hy doen nie, hy rus ook nie in die nag nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie.

24. Die beste wat ’n mens kan doen, is dat hy kan eet en drink en dinge kan geniet waarvoor hy hard gewerk het. Ek het gesien dat dit iets is wat God vir ’n mens gee.

25. Niemand kan eet en geniet as God dit nie laat gebeur nie.

26. God gee wysheid vir die mense van wie Hy hou. Hy leer vir hulle wat om te doen en Hy laat hulle die lewe geniet. Maar God gee vir die sondaars die werk om goed bymekaar te maak, en dan gee God daardie goed vir die mense van wie Hy hou. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. Mense jaag wind.

Lees volledige hoofstuk Prediker 2