Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 2:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het toe gedink: Ek sal myself toets. Ek sal vrolik wees en die lewe geniet. Ek het dit gedoen, maar toe was dit ook nie soos dit moet wees nie.

2. Ek het gedink dit is dom om altyd te lag. Wat help dit om vrolik te wees? Niks.

3. Toe het ek gedink dat ek moet kyk wat gebeur wanneer ek baie wyn drink en probeer om ’n dwaas te wees. Ek wou probeer om ’n dwaas te wees, maar ek wou nie my wysheid verloor nie. Ek wou uitvind wat goed is vir mense en wat hulle moet doen terwyl hulle lewe in hierdie wêreld.

4. Ek het groot dinge gedoen. Ek het vir my huise gebou en wingerde geplant,

5. ek het tuine en parke gemaak en ek het al die soorte vrugtebome daarin geplant,

6. ek het damme gemaak om water te gee vir die baie jong bome,

7. ek het slawe en slavinne gekoop, en my slawe het kinders gekry, ek het meer skape en bokke gehad as almal wat voor my in Jerusalem regeer het.

8. Ek het silwer en goud bymekaargemaak en ook die goed wat ander konings en die distrikshoofde vir my gegee het. Ek het mans en vroue gekry wat vir my sing, ek het alles gekry wat ’n mens kan geniet, ook byvroue.

9. Ek het belangriker geword as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het, en ek het ook nie my wysheid verloor nie.

10. Ek het alles gekry wat ek wou hê, ek het alles geniet wat ek wou geniet, want alles wat ek gedoen het, was vir my lekker. Ek kon alles geniet wat ek gedoen het, dít was die beloning wat ek gekry het vir al my werk.

11. Maar toe dink ek oor alles wat ek gedoen het, ek het gedink oor al my harde werk, en wat het ek toe uitgevind? Ek het uitgevind dat niks is wat dit moet wees nie, ek het wind gejaag. Jy kan nie wen in hierdie wêreld nie.

12. Ek het gedink ek wil uitvind hoe dit is om wysheid te hê en hoe dit is om ’n dwaas te wees. Ek wou weet of die persoon wat ná my koning sal word, iets sal kan doen wat ek nie gedoen het nie.

13. Ek het uitgevind dat dit beter is om wysheid te hê as om ’n dwaas te wees, dit is dieselfde soos lig wat beter is as donker.

14. As iemand wysheid het, dan sien hy wat rondom hom gebeur. ’n Dwaas is soos iemand wat in die donker lewe. Maar ek het hierdie les geleer: Die dinge wat met een mens gebeur, gebeur met almal.

15. Ek het vir myself gesê: Die dinge wat met ’n dwaas gebeur, sal ook met my gebeur. Het al my wysheid vir my gehelp? Nee. En ek het gedink dit is ook nie soos dit moet wees nie,

16. want die mense sal nie ’n dwaas lank onthou nie, maar hulle sal ook nie ’n wyse mens lank onthou nie. Hulle vergeet hom gou in die tyd wat later kom. Dwase mense sterf, en wyse mense sterf ook.

Lees volledige hoofstuk Prediker 2