Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 4:18-20-34 Bybel vir Almal (ABA)

18-20. “Aäron en sy seuns moet kom en hulle moet vir elkeen van die Kehat-familie sê wat hy moet doen en wat hy moet dra. Die mense van die Kehat-familie moenie kyk na die hoog-gewyde dinge nie, hulle moet glad nie kyk nie. Want as een van hulle dit doen, dan sal hy sterf, en julle moenie dat die Kehat-familie sterf en ophou lewe tussen die Leviete nie. Julle moet dit vir hulle sê sodat hulle kan aanhou lewe.”

21. Die Here het vir Moses gesê:

22. “Jy moet die Gerson-familie ook tel, jy moet skryf aan watter familie elkeen behoort en van wie se nageslag hy is.

23. Jy moet almal tel wat tussen 30 en 50 jaar oud is, almal wat kan werk. Hulle moet werk met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

24. Hierdie is die dinge wat die Gerson-familie moet doen en wat hulle moet dra:

25. Hulle moet die stukke materiaal van die tempel-tent dra, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, en die seil en die vel-seil wat daaroor is, en die gordyn by die ingang van die tent,

26. en die gordyne om die oop stuk grond, en die gordyn by die ingang van die poort van die oop stuk grond rondom die tempel-tent en die altaar, en die toue en al die ander goed wat daarby moet wees. Die Gerson-familie moet alles doen wat nodig is by die altaar.

27. Hulle moet alles doen wat Aäron en sy seuns vir hulle sê. Hulle moet die goed dra en die werk doen wat hulle moet doen.

28. Dit is die werk van die Gerson-familie by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Itamar seun van die priester Aäron moet kyk dat hulle die werk doen.”

29. “Jy moet die Merari-familie ook tel, jy moet opskryf van wie se nageslag elkeen is en aan watter familie hy behoort.

30. Jy moet almal tel wat tussen 30 en 50 jaar oud is, almal wat kan werk. Hulle moet werk met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

31. Hierdie is die dinge wat die Merari-familie moet dra en wat hulle alles moet doen: Hulle moet die rame van die tempel-tent dra, die dwarspale en die pale en die voetstukke van die tempel-tent,

32. die pale van die oop stuk grond rondom die tempel-tent, en die voetstukke en die penne en toue, en alles wat daarby moet wees. Jy moet sê watter goed elkeen moet dra.

33. Dit is die werk van die Merari-familie met die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Itamar seun van die priester Aäron moet kyk dat hulle die werk doen.”

34. Moses en Aäron en die leiers van die volksvergadering het die Kehat-familie getel en hulle het opgeskryf van wie se nageslag elkeen is en aan watter familie hy behoort.

Lees volledige hoofstuk Numeri 4