Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 3:38-51 Bybel vir Almal (ABA)

38. Moses en Aäron en sy seuns moes hulle tente opslaan voor die tempel-tent, oos van die tempel-tent. Net Aäron en sy seuns moes vir die Israeliete die werk doen in die tempel-tent. As iemand anders hierdie priester-werk gedoen het, dan moes hulle hom doodmaak.

39. Die Here het vir Moses en Aäron gesê hulle moet die name en families van die Leviete in ’n boek skryf. Die mans en ook die seuns wat ’n maand of ouer is, was almal saam 22 000.

40. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al die oudste seuns van die Israeliete tel en jy moet hulle name in ’n boek skryf, almal wat ’n maand of ouer is.

41. Maar jy moet die Leviete vir My neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die diere van die Leviete neem in die plek van al die eerste lammers en kalwers van die Israeliete.”

42. Moses het gedoen wat die Here gesê het, hy het die name van die oudste seuns van die Israeliete in ’n boek geskryf, almal wat ’n maand of ouer was.

43. Hulle was almal saam 22 273.

44. Die Here het vir Moses gesê:

45. “Jy moet die Leviete neem in die plek van al die oudste seuns van die Israeliete, en jy moet die Leviete se diere neem in die plek van die Israeliete se diere. Die Leviete behoort aan My, Ek is die Here.

46. Maar daar is minder Leviete as die oudste seuns van die Israeliete. Daar is 273 meer oudste seuns. Jy moet hulle laat loskoop.

47. Jy moet sê hulle moet elkeen van daardie 273 seuns loskoop vir vyf sikkels silwer, dit moet tempel-sikkels wees. Elke tempel-sikkel weeg 20 gera.

48. Jy moet die geld neem wat jy kry vir die persone wat jy laat loskoop, en jy moet dit vir Aäron en sy seuns gee.”

49. Moses het die loskoop-geld geneem van die persone wat meer was as die Leviete,

50. hy het dit geneem van die oudste seuns van die Israeliete. Dit was 1 365 tempel-sikkels,

51. en Moses het die loskoop-geld vir Aäron en sy seuns gegee. Die Here het gesê hy moet dit doen.

Lees volledige hoofstuk Numeri 3