Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:33-41 Bybel vir Almal (ABA)

33. Maar die donkie het My gesien en sy het drie maal weggedraai. As sy dit nie gedoen het nie, dan sou Ek jóú doodgemaak het, maar Ek sou háár laat aanhou lewe het.”

34. Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek het verkeerd gedoen, ek het nie geweet dat U voor my in die pad staan nie. Maar as U nie wil hê dat ek verder moet gaan nie, dan sal ek teruggaan.”

35. Maar die Engel van die Here het vir Bileam gesê: “Nee, gaan saam met die mans, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”Bileam het toe saam met die amptenare van Balak gegaan.

36. Toe Balak hoor dat Bileam gekom het, het hy hom gaan ontmoet by die stad Ir-Moab, naby die Arnon-rivier, op die verste grens van die land.

37. Balak sê toe vir Bileam: “Ek het jou twee maal laat roep. Hoekom het jy nie die eerste maal gekom nie? Het jy gedink ek kan jou nie betaal en ryk maak nie?”

38. Bileam het vir Balak gesê: “Hier is ek, ek het na jou toe gekom. Maar onthou, ek kan niks sê wat ekself wil sê nie. Ek kan net sê wat God vir my sê.”

39. Bileam gaan toe saam met Balak, en hulle het gekom by die stad Kirjat-Gusot.

40. Balak het beeste en bokke en skape geslag en hy het dit vir Bileam en die amptenare by hom gestuur.

41. Die volgende oggend het Balak vir Bileam na die stad Bamot-Baäl geneem. Bileam kon van daar die kant van die Israeliete se tente sien.

Lees volledige hoofstuk Numeri 22