Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:21-30 Bybel vir Almal (ABA)

21. Luister, Ek gee vir die Levi-stam al die tiendes wat die Israeliete bring. Die Levi-stam kry dit vir die werk wat hulle moet doen, die werk by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn.

22. Die ander Israeliete mag nou nie meer naby die tent kom waar Ek aan hulle verskyn nie. As een van hulle dit doen, dan doen hy verkeerd en dan moet hy sterf.

23. Die Leviete moet die werk by die tent doen, en wanneer hulle verkeerd doen, dan sal Ek hulle straf. Dit sal altyd so wees, vir julle en vir julle nageslag. Maar hulle kry nie grond tussen die ander stamme nie.

24. Die Leviete kry die tiendes wat die Israeliete vir My gee, dit is hulle s’n. Dit is hoekom Ek vir die Leviete gesê het dat hulle nie grond kry tussen die ander stamme nie.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy moet vir die Leviete sê: Julle sal van die Israeliete die tiendes kry wat Ek vir julle gegee het, dit behoort aan julle. Wanneer julle dit kry, dan moet julle ’n tiende daarvan vir My gee.

27. Dit moet julle offers vir My wees, dit is dieselfde soos wanneer julle koring van die dorsvloer en wyn uit die parskuip gekry het en gegee het.

28. So sal ook júlle vir My offers bring, julle sal dit gee van al die tiendes wat julle van die Israeliete kry. En die offers wat julle vir My moet bring, moet julle vir die priester Aäron gee.

29. Julle moet van alles wat julle kry, elke maal vir My die deel gee wat Ek moet kry. Julle moet die beste deel daarvan aan My wy.

30. “Jy moet ook vir hulle sê: Wanneer julle die beste deel gewy het, dan is die deel wat oorbly vir die Leviete soos die koring wat hulle van die dorsvloer moet kry, en soos die wyn wat hulle uit die parskuip moet kry.

Lees volledige hoofstuk Numeri 18