Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 16:25-33 Bybel vir Almal (ABA)

25. Moses het opgestaan en hy het na Datan en Abiram toe gegaan, en die leiers van Israel het saam met hom gegaan.

26. Moses het vir die volk gesê: “Asseblief, gaan weg van die tente van hierdie slegte mense en moenie aan iets raak wat aan hulle behoort nie, sodat julle nie verdwyn omdat hulle sonde gedoen het nie.”

27. Die volk het toe weggegaan van die tente van Korag, Datan en Abiram. Datan en Abiram het uitgekom en hulle het by die ingange van hulle tente gaan staan saam met hulle vroue en hulle kinders en hulle ander mense.

28. Toe sê Moses: “Julle sal nou weet dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge te doen, julle sal weet dat ek nie self besluit het om dit te doen nie.

29. As hierdie mense sterf soos mense gewoonlik sterf, as dieselfde met hulle gebeur wat met al die mense gebeur, dan het die Here my nie gestuur nie.

30. Maar as die Here iets anders laat gebeur, en as die aarde sy mond oopmaak en hy sluk hulle in saam met alles wat aan hulle behoort, en as hulle lewendig afgaan na die doderyk, dan moet julle weet dat hierdie mense gewys het dat die Here nie vir hulle belangrik is nie.”

31. Nadat Moses dit gesê het, het die grond onder daardie mense oopgeskeur.

32. Die aarde het sy mond oopgemaak en dit het hulle huisgesinne ingesluk, elkeen wat saam met Korag was, en alles wat aan hulle behoort het.

33. Hulle en almal wat aan hulle behoort het, het lewendig afgegaan na die doderyk. Die aarde het hulle toegemaak. Hulle het verdwyn uit die volk.

Lees volledige hoofstuk Numeri 16