Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 13:25-33 Bybel vir Almal (ABA)

25. Die manne het ná 40 dae teruggekom nadat hulle na alles in die land gekyk het.

26. Hulle het by Moses en Aäron en die hele volksvergadering van Israel by die stad Kades in die Paran-woestyn gekom. Die manne het vir hulle vertel wat hulle gesien het en het vir hulle gewys hoe lyk die vrugte in die land.

27. Hulle het vir Moses gesê: “Ons het na die land gegaan waarnatoe jy ons gestuur het. Dit is ’n land waar daar baie melk en heuning is, hier is van die vrugte van die land.

28. Maar daar is ’n probleem: Die mense wat in die land woon, is sterk en hulle woon in groot stede wat sterk mure het. Ons het ook Enak-mense daar gesien.

29. In die Suid-land woon Amalekiete, in die berge woon Hetiete, Jebusiete en Amoriete, langs die see en langs die Jordaan-rivier woon Kanaäniete.”

30. Kaleb het vir die volk gesê hulle moenie kla en teen Moses praat nie. Kaleb het gesê: “Ons moet gaan, ons moet die land gaan vat, ons kan dit doen, dit is seker.”

31. Maar die manne wat saam met Kaleb gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense oorlog maak nie, hulle is te sterk vir ons.”

32. Die manne het toe vir die Israeliete verkeerde stories begin vertel oor die land waarna hulle gaan kyk het. Hulle het gesê: “Ons het deur die land gegaan om na alles te kyk. Dit is ’n land wat die mense sal laat sterf wat in hom woon. En al die mense wat ons daar gesien het, is baie groot.

33. Ons het ook reuse daar gesien. Ons het soos sprinkane gevoel voor hulle, hulle het miskien gedink ons lyk so klein soos sprinkane.”Die reuse is die voorvaders van die Enak-mense.

Lees volledige hoofstuk Numeri 13