Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 11:7-18 Bybel vir Almal (ABA)

7. Die manna was soos koljander-saad en dit het geblink soos ’n boom se gom.

8. Die mense het gegaan en hulle het die manna bymekaargemaak. Hulle het dit gemaal op maalklippe of dit fyngestamp in stampblokke, en dan het hulle dit gekook en koekies daarvan gemaak. Die koekies het gesmaak soos olyfolie-koekies.

9. Wanneer die dou in die nag in die kamp geval het, dan het die manna saam met die dou geval.

10. Moses het gehoor dat die mense huil, elke familie by die ingang van sy tent. Die Here was baie kwaad, en Moses was bang en ontsteld daaroor.

11. Moses het vir die Here gevra: “Hoekom laat U my swaarkry? Ek is u dienaar. Hoekom is U onvriendelik met my? U het gesê ek moet hierdie hele volk dra, en dit is ’n swaar vrag om te dra.

12. Ek is nie hulle ma nie, maar U sê vir my ek moet hulle soos ’n kinder-oppasser teen my bors dra na die land wat U aan hulle voorvaders belowe het.

13. Waar moet ek vleis kry vir al hierdie mense? Want hulle huil by my en hulle sê ek moet vir hulle vleis gee om te eet.

14. Ek kan nie hierdie hele volk alleen dra nie, dit is te swaar vir my.

15. As U my so swaar wil laat kry, dan sal dit beter wees as U my doodmaak, dit sal beter wees vir my. U moenie my so swaar laat kry nie.”

16. Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet vir My 70 van Israel se leiers laat bymekaarkom. Jy weet wie is goeie leiers en voormanne. Jy moet hulle neem na die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, en jy moet hulle daar by jou laat staan.

17. Ek sal afkom en daar met jou praat en Ek sal van die gees wat in jou is, neem en dit in hulle laat kom. Dan kan hulle saam met jou die volk dra en dan moet jy dit nie alleen doen nie.

18. En jy moet vir die volk sê: Julle moet julleself wy vir môre, want môre sal julle vleis eet. Die Here het gehoor dat julle gehuil en gekla het. Julle het gesê: ‘Wie sal hier vir ons vleis gee om te eet? Dit was vir ons beter in Egipte.’ Die Here sal môre vir julle vleis gee en julle sal dit eet.

Lees volledige hoofstuk Numeri 11